
Landbounuus-podcast: Vrystaat Landbou vra vir kommentaar oor onteinening
Loading player...
Vrystaat Landbou (VL) doen 'n beroep op nie net die eienaars van plaasgrond nie, maar ook alle eiendomseienaars om gebruik te maak van die verlengde tydperk vir kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening. Skriftelike voorleggings kan nou gedoen word tot 28 Februarie, waarna VL sy lede sal lei om deel te neem aan die openbare verhore wat daarop volg. Die organisasie sê in 'n verklaring lede van die publiek moet die twee wetgewende prosesse wat tans ter sprake is, duidelik verstaan. Dit is daarop gemik om 'n beginsel vas te stel dat grond onteien kan word teen nul vergoeding. VL sê die een behels die proses van ‘n onteieningswetsontwerp en die ander is die konsepproses vir die 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet, om nul vergoeding moontlik te maak. Volgens VL is dit baie makliker om die beginsel van onteiening sonder vergoeding deur die parlement te laat aanvaar deur die wetgewende proses wat slegs 'n meerderheid van 50% in die parlement vereis, terwyl 'n grondwetwysiging van hoofstuk 2 die steun van twee-derdes van die parlement vereis. Daarom meen VL dit is belangrik om die Onteieningswetsontwerp in sy huidige formaat te stop.

